Road2theCross | Faith-Based Social Network for Christians

Verhouding met God - Deur Debbie Zaayman-Fourie

Die alarm gaan af – die son se eerste strale sê dis tyd om op te staan. Sy vryf oor haar oë in ‘n poging om krag te kry om op te staan en die dag te pak. Sy dink aan alles wat gedoen moet word: die tandarts afspraak, die kinders wat aandag moet kry, die onmoontlike werk situasie, die uitstaande rekenings….
Sy trek weer die kombers oor haar. Asof sy haarself wil wegsteek en weghou van die wêreld en alles wat hy van haar vra.
“Ek kan net nie meer nie!” ‘n Gedagte vul haar binneste.
“Jy is tot alles in staat. Jou naam is in My handpalm gegraveer.”
Trane dam op in haar oë as jy dink aan Hom.
“Ek ken U nie meer nie.”
“Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie.”
“Sal U my hoor as ek pleit – HELP MY!”
“’n Geknakte riet word nie gebreek nie.”
‘n Enkele traan loop oor haar wang maar maak vining plek vir ‘n rivier van water soos haar siel en gees skoongewas word. Skoongewas van jare se seer en pyn en hartseer en swaarkry en ja van alleen wees.
“Ek is jammer ek het my rug op U gedraai.”
Stilte.
“Ek het U nodig Here.”
Stilte
“Ek kan dit nie meer alleen doen nie. Asseblief vergewe my en help my Here.”
“Ek is hier dogter.”
‘n Warm gloed van liefde vul haar hele binneste en die sluier van donkerte begin lig in haar.
Sy vryf oor haar wang en vee die spore van al haar trane af.
“Ek maak alles nuut.”
Sy staan op en kyk na haarself in die spiëel. Sy sien die letsels nog in haar oë. Sy vryf oor haar hare wat eens soos die son se gloed oor haar skouers geval het. Sy haal diep asem en weet oombliklik wat sy moet doen. Sy maak die laai oop en haal dit uit: Haar Bybel. Sy vee jare se stof van die Boek af en druk hom styf teen haar bors vas.
“Ek sal U nie weer weggooi nie. Ek wil U weer ken.”
Gevul met ‘n vrede wat sy weet net van God afkom, kom die dreunende klank van liefde binne in haar:
“Jy is my dogter en Ek wag al jare vir jou. Kom en stap saam met my….”

So baie keer in ons lewe word ons oorweldig deur die alledaagse verantwoordelikhede. Dalk as ‘n enkel ouer, dalk as iemand wat ‘n siekte beveg, dalk iemand in ‘n seer verhouding. Daagliks is daar dinge waar ons moet gaan, en dinge wat ons moet doen. Oorweldig deur finansiële kwellinge, ‘n stukkende huwelik, opstandige kinders, werkloosheid – en so kan ons lys aangaan.
Waar daar eens tyd was vir stil wees en bid, is daar nou net ‘n geraas wat nie kan stil nie.
Daar is net een uitweg – daar is net een oplossing: ‘n Verhouding met jou Vader. As daar een verhouding is wat nie afgeskeep moet word nie, is dit jou verhouding met God.
Om tyd met Hom te spandeer maak nie geraas stil. Dit gee jou kalmte as jy oorweldig is. Dit laat jou dinge weer in ‘n nuwe perspektief sien. As daar een is wat verstaan en alle sweet en wil help dan is dit God. Dalk gee Hy jou nie dadelik al die antwoorde nie maar ten minste is Hy daar. Hy gee om, Hy luister, Hy hoor, Hy vee trane af en Hy het onvoorwaardelik lief.
As jy een van die is wat dalk julle verhouding afgeskeep het en wie se Bybel ook vol stof in die laai lê – weet Hy wag vir jou en wil so graag die pad saam jou stap. Hy steek Sy hand uit – al wat Hy vra is – vat My hand?
Wat keer jou – Hy wag vir jou – vat Sy hand…

Geskryf deur: DebbieTattie05 op 2026-07-19 20:43:45

Kommentaar

Geen kommentaar nog nie.

Login om kommentaar te lewer.